Ou Kraalliedjie
Klanke vir die hart
0:00 / 0:00
Ou Kraalliedjie
37 просмотров · 7 дн. назад
Klanke vir die hart
139 подписчиков
37 просмотров · 7 дн. назад
In 1967 het Groep Twee ’n treffer met “Die Oukraalliedjie” gehad, maar eintlik is dié liedjie baie ouer as dit.
Volgens mnr. GP du Toit, wat in Paarl gebore is en ’n lektor aan die Onderwyskollege in Paarl was, is Oukraal die naam van ’n bekende kampplek bo-op Pêrelberg. Dit is eintlik ’n byna kringvormige bos van olienhoutbome met ’n groot, byna eiervormige granietrots aan die westekant van die bos.
Die Oukraal was die plek waar Paarliete tydens die Kers- en Nuwejaarsvakansietye uitgespan het voordat motors algemeen in gebruik was. Daar het hulle jukskei gespeel, musiek gemaak en gesing. Dit is ook waar Manas de Villiers die inspirasie vir die woorde gekry het. Dit is gesing op ’n Amerikaanse wysie waarvan A Brown die komponis was.
Volgens oorlewering het die boere van die Agter-Paarl hul vee op die Pêrelberg laat wei en hulle saans by die Oukraal bymekaar gemaak om hulle teen wilde diere te beskerm. Die plek moes dien as ’n soort kraal of beskerming vir die vee; vandaar die naam Oukraal.
In die volkspele-handleiding, Ons volkspele-erfenis, het Dirkie de Villiers vertel hoedat hy die liedjie leer ken het. Hy en sy vrou was in Desember 1946 met vakansie op Bloubergstrand. Dit het op Oujaarsaand hard gereën en toe klop twee van sy vriende, Manas en Amie de Villiers aan die deur van die kamer waar hulle tuisgegaan het. Hulle het besluit om saam musiek te maak en te sing, met ’n mandolien en ’n banjo as begeleiding. Hulle het aanvanklik hoofsaaklik Engelse liedjies gesing, maar toe vra Amie vir Dirkie of hy die Oukraal ken. Toe Dirkie vra hoekom, sê Amie hulle het ’n liedjie saamgeflans, en dit het as “Die Oukraalliedjie” bekendgestaan. Toe sing hulle dit, en die res is geskiedenis. Dit is in die Nuwe FAK-sangbundel, waarvan Dirkie die eindredakteur was, ingesluit, en dit is ook deur middel van volkspele in Suid-Afrika en in die buiteland bekendgestel.